AlgemeenPinotage is vermoedelik in 1925 ontwikkel deur prof AI Perold, wat Pinot noir en Cinsaut noir, destyds bekend as Hermitage, suksesvol gekruis het. Vandaar die naam Pino – tage. Prof CJ Theron het egter die oorspronklike saailinge gered en vermeerder en die groot evalueringstaak onderneem. Die naam het in 1961 die eerste keer op 'n wynetiket verskyn, nl SBW se 1959-Lanzerac-Pinotage. Dit het gevolg op die sensasie wat die Morkels van Bellevue in 1959 by die Kaapse jongwynskou veroorsaak het toe hulle die prys vir die beste wyn op die skou met hierdie feitlik onbekende kultivar gewen het. Wyle senator Paul Sauer van Kanonkop het veel gedoen om Pinotage gewild te maak. Wanneer opgelei en toegelaat om swaar te dra, kan 'n ligte tot taamlik vol rooi tafelwyn berei word. Isoamielasetaat was, veral in die beginjare, geneig om dikwels prominent op die neus te vertoon wanneer die wyn nog baie jonk was. Wanneer gesnoei om 'n kleiner oes te lewer en toegelaat word om baie ryp te word, kan 'n donkerpers wyn met 'n oorweldigend kenmerkende boeket verkry word. Pinotage is tans die mees aangeplante plaaslik geteelde kultivar en dit het die reputasie dat ‘n unieke rooiwyn geproduseer kan word wat maklik van ander rooiwyne onderskei kan word. Wanneer dit egter onder toestande van hoë temperature en waterstres verbou word, word dikwels ondervind dat ‘n spuitverfkarakter in die wyn ontwikkel.
Hierdie ongewensde karakter neem vinnig toe wanneer gistingstemperature toegelaat word om bokant 30°C te styg. Wanneer Pinotage egter onder “sagter” toestande verbou word waar waterstres en hoë temperature nie ‘n probleem gedurende rypwording is nie, ontwikkel ‘n Pinot-agtige karakter in die wyn wat as hoë gehalte erken word. Aanvanklik het Pinotage baie van sy gewildheid in Suid-Afrika verloor – interessant om daarop te wys dat aanplantings in 1979 slegs 66 639 stokke bedra het. Vanaf 1990 met die opheffing van sanksies, het hernieude belangstelling in hierdie kultivar ontwikkel. Oor die jare is baie gedoen ter plantverbetering en koonevaluasie. In die jongste tyd het aanplantings aansienlik toegeneem. Word tans in alle streke verbou met die meeste aanplantings in Malmesbury (1 760 ha), gevolg deur Stellenbosch (1 370 ha), Paarl (1 289 ha), Worcester (815 ha), die Olifantsriviergebied (609 ha), Robertson (459 ha), die Klein Karoo (97 ha) en die Oranjeriviergebied (91 ha). Pinotage beklee tans die 8ste posisie op die ranglys van totale wyndruifaanplantings in Suid-Afrika. Sinonieme Geen (Suid-Afrikaanse kultivar) Onderskeidende kenmerke Leeragtig, dik, donkergroen blare. Vyf-lobbig met sy-sinusse medium tot diep. Tande (dikwels meer as een) kom in sinusfronte voor. Blaartande breed en stomp. Korrels klein, ovaal met dik, taai, donker gekleurde doppe. Beskrywing Spruitpunte: Viltig en wit. Blare: Groot, langwerpig, 5-lobbig, donkergroen, leeragtige voorkoms en geplooi. Sy-sinusse medium tot diep, tande kom dikwels voor in sinus. Bladsteelsinus liervormig en nou. Webbig behaard onder en tande gebult, breed en stomp. Tros: Relatief klein en konies, medium tot kompak. Korrels: Klein, ovaal, donker gekleurd met taai dik doppe. Sagte, sappige vleis. Rypwording: Laaste helfte van Februarie/eerste week in Maart. Opbrengs: 10 – 15 t/ha Gemiddelde suikerkonsentrasie: 22 – 25°B Gemiddelde suurkonsentrasie: 6 – 7 g/l Wyngehalte: Premium (wanneer op aanvaarbare terreine verbou word). Beskikbare klone Daar is ongelukkig nie baie klone van Pinotage beskikbaar nie: PI 45: Gemiddelde opbrengs en groeikrag, baie vrugtig, vol met baie tanniene, vanaf Distell. PI 48: Gemiddelde opbrengs en groeikrag, baie vrugtig, vanaf KWV. PI 50: Gemiddelde opbrengs en groeikrag, tipiese vrugtige smaak, vanaf KWV. Verbouing Groei middelmatig met 'n matige opbrengs. Word suksesvol as bosstokke in sekere areas verbou. Pinotage is minder teen Botrytis bestand as Cabernet Sauvignon, maar omdat dit vroeër rypword, word ernstige probleme nie ondervind nie. Origens nie uitermate gevoelig vir swamsiektes nie. Wanneer Pinotage onder ongewensde toestande verbou word (waterstres, hoë temperature tydens rypwording), ontwikkel dit dikwels ‘n spuitverfkarakter in die wyn. Onder “sagter” toestande word ‘n meer uitgesproke Pinot-karakter ontwikkel. Deur verskillende terreine te kies, is dit moontlik om twee onderskeidende style Pinotage wyne te produseer. Dit word relatief vroeg ryp en in sommige jare is dit moontlik om die “harde” rypwordingstoestande teen die einde van die seisoen te ontsnap. Middel tot hoër oostelike hellings op dieper gronde met goeie waterhou-eienskappe is die beste vir Pinot-agtige Pinotage wyne. Onder hierdie toestande moet Ruggeri 140 as onderstok gebruik word, veral as besproeiingswater soms te min mag wees. Vir die spuitverfagtige wynstyl moet westelike hange wat nie deur suid-westelike winde bereik word nie, gebruik word en dan word R110 as onderstok aanbeveel. Terug na Engels
|